English
The best way to predict the future is to create it. Peter Drucker
Intreeboodskap
Ek is 'n gebore Suid-Afrikaner - Afrikaanssprekend - en het my besigheid begin in 1993 - een jaar voor die begin van 'n nuwe regering en 'n nuwe era in ons geskiedenis. My besigheid het dus ontstaan en het gegroei in die nuwe bedeling. In hierdie tyd het baie dinge gebeur wat positief is maar wat vanweë die nuusmedia se soeke na nuuswaardigheid meesal agterweë gebly het in die openbare oog. Ook word die goeie dade tot 'n mate oorskadu deur die onbeholpenheid van die nuwe regering om hulle beeld korrek te bemark en ook om interne korrupsie en algemene misdaad te hanteer. Wat ek met hierdie poging wil bereik is om die goeie mense wat goeie dinge doen in veral die verskillende vlakke van die regering erkenning te gee. Vir geen oomblik wil en kan ek die slegte van die regering ontken nie - dit is ongelukkig onmoontlik om daarvan weg te kom. Maar ek gaan NET op die goeie en die ekstra myl wat mense in die regering loop om 'n taak te doen ten spyte van die swak beeld en omgewing waarin hulle werk.

Wat my eerste getref het is die baie terugvoer oor swak paaie in Suid-Afrika en hoe min daar spandeer word (NIKS) om dit uit te brei of te onderhou nie. Toe sien ek dat waar my fabriek is in Centurion is daar meer as 20 plekke waar of 'n uitbreiding van die padstelsel is of opgradering/herstel. Dit is toe dat ek besef maar die kloutjie kom nie mooi by die oor nie. Grotendeels is my waarneming dat ons 'n fantastiese padinfrastruktuur het wat meesal in 'n goeie toestand is. Onthou - ek het ook slegte paaie gesien - maar ek gaan geen terugvoer oor hulle gee nie want dit maak nie goeie paaie sleg nie. In my besigheid reis ek oor 'n groot deel van die padnetwerk en ek sien duisende en duisende kilometers goeie tot baie goeie paaie. Ry maar vanaf Messina op ons Zimbabwe grens tot op die Waterfront in Kaapstad. Van Pretoria tot Durban dan Richardsbaai of Port Shepstone. Waar die pad sleg is of ontoereikend het ek gesien dat daar herselwerk/herbouing tans aan die gang is. Ek praat van honderde plekke oor die hele land (munisipaliteite en groter paaie) wat ek in een week sien waar daar konstruksie is!! Al my paaie wat ek ry is op 'n GPS opgeneem en word deur my bewaar. Dit was veral vir my opsigtelik in die Centurion omgewing om te sien dat die slaggate so gou herstel word - dit ten spyte van die feit dat daar baie slaggate was as gevolg van die baie reën en die swaar verkeer.
 |
Oral sien ek op enige oomblik infrastruktuur wat opgradeer word. Veral waterpypleidings en telefoonnetwerke. Ek het vir jare al net die beste diens van Telkom ontvang en ek kan meesal enige plek in die wêreld skakel. Meesal is die diens - van die oproepdiens sowel as die tegnici - wat ons kry as daar wel foute is baie beleefd en professioneel en die tegnici wat uitkom is kundig en doen moeite. Behalwe vir die Eskom debakel van die begin van 2008 is ons kragvoorsiening absoluut aanvaarbaar met die minimum onderbrekings. Onthou - ek weet dit is soms af en dit veroorsaak ongelooflike frustrasie - maar dit is nie wat ek wil terugvoer. Die dagblaaie en ander nuusmedia druk dit 24 uur 'n dag in ons keel af.
 |
Ek moes onlangs my bestuurslisensie kry en was 06:00 by die munisipale kantore in Nelmapiuslaan, Centurion. 07:20 het ek daar uitgestap - let op na die tyd wat ek gehelp is - die diens was vriendelik en professioneel. Sowat 6 weke later is ek in kennis gestel dat die lisensie beskikbaar is maar ek het net voor dit geskakel en hulle kon vir my dadelik sê dat die lisensie gereed is. Dit het sowat 30 minute geduur om die lisensie af te haal alhoewel ek op 'n ander geleentheid die lisensie wou afhaal maar toe was daar 'n probleem en die tou was 'n uur lank gewees en ek het omgedraai. Sowat twee jaar gelede moes ek my paspoort hernu - sowat 2 ure in die tou - professionele diens - en ses weke later was my paspoort gereed en sowat 30 minute vir die afhaal en die paspoort was korrek. 'n Fisioterapeut wat my behandel het het my vertel dat sy die vorige langnaweek (twee jaar gelede) deur die grenspos by Parr's Halt / Ellisras wou gaan maar die doeanepersoneel het ontdek dat haar paspoort verval het. Alhoewel dit 'n Saterdag-oggend van 'n langnaweek was verwys die personeel haar na Binnelandse Sake in Ellisras waar sy toe gehelp word, na 'n verklaring by die Polisie en sy is 'n paar uur later deur die grenspos met 'n tydelike paspoort.
 |
Tot vervelens toe hoor jy van die swak opgeleide en gemotiveerde personeel - veral in die arbeidersklas. Eerstens sien ek die mooiste paaie, brue en geboue wat verskyn - watter dom swak gemotiveerde werker het dit reggekry? Ek glo nie afskeepwerk word enigsins toegelaat op die netjiese en professionele terreine van die Gautrein projek nie - ek weet nie wat is die persentasie van buitelanders wat op die projek werk nie maar ek sou glo dit is beperk tot spoorwegvakspesialiste. Tweedens sien ek op klein sowel as reuse boupersele hoe werkers met oënskynklik min of geen toesighouding werk op Saterdae en Sondae. Ry maar tussen Johannesburg en Pretoria op 'n naweek - dit skarrel soos miere. In ons besigheid het ons baie te doen met koeriers. Hierdie drywers is vir my 'n fenominale groep mense - so toegewyd, geduldig en behulpsaam en hulle verstaan hulle vakgebied baie goed. As ek in die pakhuise kom laat in die aand is dit 'n miernes van aktiwiteite - niemand staan lusteloos rond nie en hulle is hulpvaardig - 23:00 in 'n koue aaklige pakhuis. Ek wil die webwerf interaktief maak met redigering voor plasing. So laat u goeie ervaring met, veral die regering, kom asb. Daar gaan NET positiewe artikels verskyn. Foto's, name, datums en plekke is belangrik om so die geloofwaardigheid daarvan hoog te hou. Net web en e-pos asb. Geniet die Dag! Philip Boardman
|